Terugvoer van die SAFA Cattleman’s Conference_Maart 2019

fotos en teks deur Johan Norval

 

Nuwe wind in rooivleisbedryf

 

Daar is ‘n nuwe gees van samewerking tussen die bedryfsorganisasies in die rooivleisbedryf. Dewald Olivier, uitvoerende bestuurder van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging (SAFA), beskryf sy benadering met die woorde: “I have a dream.”

 

Olivier het sy geesdrif vir die toekoms van SAFA en die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf op die onlangse konferensie in Bloemfontein uitgespreek. Hy beskou dit van belang dat sy lede en die rolspelers in die bedryf bewus raak van die nuwe wind wat waai om die rooivleisbedryf se toekoms van nuuts af te benader. “Indien die samewerking nie verwesenlik word nie, sal die bedryf doodbloei,” sê hy.

 

Vir dié doel was dit vir hom belangrik om met die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en die Abattoirvereniging bande te smee ten behoewe van die land se rooivleiswaardeketting. “Ons kan nie sonder mekaar bestaan nie. In die verlede het onderlinge twis die produksietoestande van die boere ondermyn, asook vir die voerkrale. Volgens Olivier is daar sekere doelstellings wat groter is as die onderskeie instansies in die bedryf. “Ons besef dat samewerking krities noodsaaklik is, soos in die hantering van die uitbreek van bek-en-klouseer,” sê hy. “Benewens die samewerking met die regering oor die aangeleentheid, was die interaksie tussen die bedryfrolspelers fenominaal.”

 

Volgens hom beëindig dié benadering die binnegevegte wat die bedryf se werking tot dusver vertroebel het. Die voordurende vingerwysery oor die prysvlakke van speenkalwers was een van die strydpunte. “Dit is egter ’n normale uitvloeisel van die ekonomiese beginsel van vraag en aanbod wat die prys bepaal,” sê hy. Die bedryf moet eerder sy aandag toespits op bemarking aan ’n geskikte verbruiker, asook watter snitte. “Ek verstaan dat prys vir almal belangrik is, maar dit kan deur niemand anders as die ekonomie bepaal word nie,” sê hy.

 

Volgens Olivier kan hy nie van sy lede verwag om saam te werk as hy en se mede-bedryfsgenote in die RPO en die Abattoirvereniging nie daarin kan slaag nie.

 

Henriëtte Breedt van die Verbreed-voerkraal in Noordwes, en SAFA se uittredende voorsitter, het haar tevredenheid uitgespreek oor die smee van bande tussen die bedryf se rolspelers. “Ek is positief. As deelgenote van ’n waardeketting het ons mekaar nodig – die speenkalfprodusente het die voerkrale nodig en andersom.” Sy het bevestig dat SAFA hom onder moeilike omstandighede besig hou met sake van belang vir die voerkrale. “Die rooivleisbedryf is die afgelope jare konstant in ’n beklemmende ekonomie onder druk met onder meer die voorkoms van bek-en-klouseer en listeriose. Ten spyte daarvan vaar ons goed,” sê sy.

 

James Faber, die ondervoorsitter van die RPO wat sy organisasie op die konferensie verteenwoordig het, sê die bedryf sal nou as ’n span saamwerk ter ontwikkeling van die totale bedryf. “Die RPO se mikpunt hou verband met wat sy produsente op grondvlak ten beste bevoordeel om winsgewend op die plaas te kan aanbly,” sê hy. “Kom ons grawe nie verder ou koeie uit die sloot op nie terwyl ons ter bevordering van die rooivleisbedryf sorg dat elke verbruiker ’n stuk rooivleis op sy bord geniet. Daardeur word die hele waardeketting gestimuleer.”

 

Louw van Reenen van Beefmaster in Kimberley is op die SAFA-jaarvergadering tot voorsitter verkies. “Sake wat binnekort aandag sal geniet is ’n moontlike verhoging van die statutêre heffing in die volgende termyn om die rooivleisbedryf te befonds, vleisuitvoer, en dat Suid-Afrika sy bek-en-klouvrye status herwin,” sê hy.

 

Tegnologie en vleisproduksie

Vir toekomstige winsgewende rooivleisproduksie in die wêreldmark sal produsente toenemend moet kennis neem van die toepassing van nuwe tegnologie. “Die produsent sal moet kennis neem van veranderende neigings in die wêreld waarvan nuwe tegnologie ’n groot deel uitmaak,” sê Darryl Clark, ’n konsultant van Kemin-dieregesondheid wat na die 25 voorste voerkrale in Amerika omsien. Hy sê hierdie tegnologie kan verband hou met dit wat in die dier of op die dier aangewend word.

 

Clark was een van die kundiges wat aan die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging (SAFA) se konferensie in Bloemfontein deelgeneem het. “Uiteraard sal sommige van die hulpmiddels wat ons nou gebruik, verouderd raak. Die produsente sal hulle vinnig by die verandering in tegnologie moet aanpas.”

 

Volgens Clark is sowat 70% van die dier se immuunstelsel in sy ingewande gesetel. “Ons is terdeë bewus dat indien patogeniese toestande en weefsel in die ingewande beheer kan word, die dier se prestasie sal verhoog,” sê hy. Die uitdaging is egter dat meer as net ’n enkele behandeling of ingryp nodig is om dié totale resultaat te bewerkstellig. Derhalwe moet die oplossing verkry word om tot daardie vlak te vorder. Hy sê indien die wetenskaplikes daarin sou slaag om patogene uit die bloedstroom te weer voordat dit in die ingewande posvat, ander sistemiese siektetoestande voorkom kan word.

 

Volgens Clark sal die nuwe tegnologiese ontwikkeling nie dieselfde uitwerking van byvoorbeeld ’n sterk antibiotikum op ’n siektetoestand hê nie. “Derhalwe sal produsente toenemend op die gesondheidsorg van hulle diere moet let, selfs voor geboorte. Dit begin by die ma, wat ’n sterk, gesonde kalf van die begin af moet baar.” Volgens hom lei die vroeë voorkomingsoptrede tot groter winsgewendheid, selfs tot wanneer die kalf geslag word.

 

Met verwysing na Suid-Afrika se rol in die bemarking van rooivleis in die wêreldmark, sê Clark dat die binnelandse beesbevolking aansienlik sal moet uitbrei. “Daar is geen rede waarom plaaslike produsente nie hulle vleis na die Amerikaanse mark kan uitvoer nie, aangesien Amerika, ten spyte van groot vleisuitvoer, tog sekere snitte invoer.”

 

Dr. Timothy Jenkins, ’n kundige in die Nieu-Seelandse suiwelbedryf, gee Clark gelyk dat indien die bedrywe nie nuwe tegnologiese ontwikkeling aanvaar nie, hulle nie vooruit sal kan gaan nie. “Die toekoms van die landbou is datagedrewe en indien die produsente dié onwikkeling misloop, verbeur hulle hul mededingende voordeel,” sê hy. Dr. Jenkins is ’n ontwikkelingswetenskaplike by die hoofkwartier van Biomin in Oostenryk waar hy hom toespits op die ontleding van mikotoksiene en die uitwerking daarvan op herkouer-mikrobiologie. Hy het onlangs met Projek 4.0 begin, waarvolgens groot datagrepe ingespan word, asook voorspellingsmodelle en kunsmatige intelligensie.

 

Vertroue en belegging

Die herstel van vertrouensvlakke is die ontbrekende bestanddeel om die groei van die Suid-Afrikaanse ekonomie te bewerkstellig. Wandile Sihlobo van Agbiz sê die vestiging van vertroue is onontbeerlik om beleggers te lok, wat uiteindelik tot groei in die ekonomie én werkskepping sal lei. “Die landboubedryf het die afgelope paar maande nog nie ’n noemenswaardige afname in belegging ondervind nie, maar beleidsonsekerheid kan dié neiging negatief beïnvloed.” Hy sê beleidsmakers het op hulle onlangse buitelandse reise om beleggings te lok wel probeer om onsekerhede uit die weg te ruim, maar die regering se boodskap oor beleid kan in die huidige verkiesingsklimaat effens onduidelik voorkom. “Indien jy egter die beleidstukke bestudeer, is daar ’n duidelike aanduiding oor die rigting wat die regering inslaan en ek vertrou dat ons dié punt bereik.”

 

Nick Serfontein van Sernick, sê ten spyte van die onaanvaarbare sosio-politieke toestande in die land, is daar nogtans so baie positiewe aspekte verbonde aan Suid-Afrika. “Die landboubedryf beleef tans ’n ongunstige tydperk, met inbegrip van die droogte en ’n lae mielieprys. Van die positiewe wendings kom op die vlak van grondhervorming, en my boodskap aan produsente is onomwonde: ‘Luister ouens, dis nou tyd om grond te koop. Moenie skrik oor die geraas oor grondhervorming nie.’” Volgens hom is daar tans oorgenoeg onproduktiewe grond beskbaar om die grondhervormingsteiken van 2030 te bereik sonder om aan “een stukkie produktiewe landbougrond” te raak. Een van die bemoedigende aspekte volgens hom is dat die privaatsektor grondhervorming in die toekoms sal bedryf.